Boervolk Geskiedenis

Boeregrafte op Bermuda


Boeregrafte op Bermuda

Geskryf deur Anton Raath | Geskiedenis | Vrydag 25 Januarie 2002 2:21 pm
Ilze Bezuidenhout oor ‘n besoek aan die boeregrafte op Bermuda:Dit was ‘n dag soos die meeste ander. Blousel blou lug, ‘n paar dwalende kumuluswolkies, en die boontste blare van diepgroen bome wat liggies swiep in die dun bries. ‘n Paar minute verder op die eiland sluit kwasterige sakemanne finansiële transaksies wat dollar-gewys weergalm op die wêreldbeurse. Hierdie eiland, Bermuda, ‘n lewende sigaretadvertensiedroom versteek ‘n langvergete begraafplaas, op ‘n klein, afgesonderde eilandjie, waar ‘n aantal Boerekrygers hul laaste uitsig geniet. ‘n Groep Suid-Afrikaners op ‘n sake- en vakansiebesoek het halfpad om die wêreld gevlieg om hier in die middel van die Atlantiese Oseaan ‘n stukkie Suid-Afrikaanse geskiedenis teë te kom.

Dit was ‘n onverwagse konfrontasie met ons kollektief vervagende geheues.
Die groep Afrikaners en twee Bermudiane het die oseaan aangedurf op ‘n oop besigtigingsbootjie; oppad na die versteekte begraafplaaseilandjie, Long Island. Die asuur van die lug omvou die wydte van die stil waters; en sluk die onbewoonde eilandjies in. Gewapen met die ou Transvaalse vierkleurvlag, ‘n tropiesrooi blommekrans, en videokameras loop hulle terug op die spore van manne wat aangehou is en sommige wat later gesterf het as krygsgevangenes van die Engelse in die Anglo-Boereoorlog op ‘n eiland – onbekend en onbemind.Die Bermudiaanse gasheer en sy stuurman besef nie wat hierdie terugstap in tyd vir ons beteken nie, en praat onverpoos voort oor Michael Douglas se villa op linkerkant en die $20 miljoen villa daar tussen die bome. Die klatergoudbestaan op Bermuda oorskadu die vergete afgryse van die konsentrasiekampe wat skimmig skuil op die ses eilandjies (Burt’s, Darrell’s, Hawkins’, Hinson’s, Morgan’s, en Tucker’s) waar die 4619 krygsgevangenes aangehou is.

Long Island is heuwelagtig en verweef met hoofsaaklik uitheemse plante wat deur die Britse kolonialiste aangeplant is. Met elke tree na die hoogliggende begraafplaas word die kontras van die onbeskryflike natuurskoon en die ellendige situasie van die krygsgevangenes dringender en skreiender. Ons veg die weerbarstige plantegroei terug in tyd op die spore van ons volksgenote tot ons uiteindelik bo kom – en kan terugkyk.

Vanaf 28 Junie 1901 tot Januarie 1902 het die Boere krygsgevanges op vyf bote (die Montrose, Armenian, Ranee, Manila, en Harlech Castle) in Bermuda aangekom. Hulle ouderdomme het gewissel van ses tot 80; en so ook hulle agtergronde: sommige was goed opgevoed en/of welgesteld en ander byna ongeletterd, en arm. Hul opvoeding sou ook ‘n rol speel by die toekenning van werk op die eilande: die geleerdes het as onderwysers of klerke opgetree, terwyl die ander ongeskoolde arbeid moes verrig. Hulle het bekend gestaan as die “penny boys” omdat hulle net ‘n pennie per uur verdien het.

Sommiges het in die gruisgat op Long Island gewerk. Hierdie eiland het gedien as begraafplaas en werkplek, en was verbind met Hawkins’ Island en Port’s Island deur middel van hout voetbrûe; mediese versorging is verskaf op Port’s Island.

En dit is hier waar die duisende manne elke dag van hul gevangenisskap hul ure probeer vul het met nuttige of sinnelose aktiwiteite om die groot alleen te besweer. Reeds vanaf 9 Julie 1902 het die eerstes teruggekeer na hul vaderland of na ander lande soos die VSA; die laastes het die eiland op 20 Augustus 1904 verlaat.

Met die omdraai en tuur na die ligspel op die watermassa, weet ons dat die Boerekrygers oorwinning in en na die dood gekry het. Hulle grafte lê op ‘n hoogte, terwyl díe van die Britse gevangenes, onder in die laagte van die begraafplaas versprei is. Het die stryders na die dood die morele en geestelike oorwinning behaal, as beloning vir die land waarvoor hulle tot die dood toe geveg het? Of is dit net ‘n simboliese toevalligheid?

Met verlange na my verre land, wonder ek hoeveel Afrikaners in die vreemde sterf, sonder dat iemand hulde aan hulle bring. Mense wat Suid-Afrika verlaat omdat hulle nie kans sien vir hul vaderland en sy uitdagings nie. Sal daar Afrikaners wees wat oor ‘n 100 jaar oor hierdie slagoffers van die geskiedenis skryf?

165total visits,1visits today

Advertising